Padkaart om Sjinees te leer (1)

Ek het nou al heelwat voetwerk gedoen om te verstaan wat nodig is om Sjinees te leer.  My gevolgtrekking is dat dit nie so moeilik is as wat jy dalk dink nie, en beslis makliker is as wat dit slegs enkele jare gelede was, danksy uitstekende hulpbronne wat beskikbaar is op die Web.  So hier is wat ek dink nodig is – verskeie benaderings wat jy terselfdertyd kan volg:

1. Formele lesse .  Deur formele lesse te neem, maak jy ‘n geldelike verbintenis.  As jy nie ‘n sterk verbintenis maak om Sjinees te leer nie, sal jy heel waarskynlik dit nie volhou nie – dis wat met die meeste mense gebeur wat op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n ander taal aan te leer.   As jy klasse loop het jy ook Sjinees as deel van jou week se roetine, en begin jy met daardie menslike kontak met Sjinees, wat so nodig is.

2. ‘n Les een keer per week is nie genoeg nie – jy moet elke dag leer en oefen.  Gelukkig is daar baie bronne op die Internet, asook apps  en ander hulpbronne wat jy kan gebruik.

Leer die 3000 mees algemene Sjinese woorde.  Hierdie lys deur Patrick Hassel Zein, is gebasseer op navorsing deur Jun Da.  Hulle skat dat as jy slegs die 100 mees algemene  woorde leer, jy reeds 42% van die taal kan verstaan.  Met die 200 mees algemene woorde, styg jou begrip na 55%, en so aan – op na net meer as 99% as jy die 3000 mees algemene woorde ken.  Daarom maak dit absolute sin om die woorde in volgorde van gebruiksfrekwensie te leer. Skryf die Sjinese karakter, asook sy betekenis neer op papier vanaf Patrick se webbladsy.  Jy moet die karakters self skryf om hulle te kan onthou.  Skryf die karakter (woord) en sy betekenis in Afrikaans of Engels neer, en gebruik ‘n app soos Google Translate om te luister hoe hy klink.  

  • As jy meesal so 5 per dag leer, kan jy miskien die 3000 binne 2 jaar baasraak (maar jy sal telkens die woorde wat jy reeds geleer het, moet hersien).  Doen hierdie 5 woorde per dag onafhanklik van die ander maniere hoe jy Sjinees leer.
  • Die verduidelikings van die woorde is miskien meer as wat ‘n beginner nodig het.  Byvoorbeeld 了 beteken bloot ‘die’ (the).  Google Translate is baie goed daarmee om ‘n woord se eenvoudigste of mees algemene betekenis te vind.

3. Leer Pinjin, dis baie maklik, en jy kan dit binne ‘n uur of twee baasraak.  Moenie die alternatiewe leer nie – as jy wel besluit om eerder Zhuyin (Bopomofo) of Wade–Giles te leer, moet jy baie mooi verstaan hoekom jy dit kies.  Mens kan byvoorbeeld besluit om  Zhuyin te leer as jy Taiwan toe wil gaan, maar selfs dan is dit die moeite werd om Pinjin te leer omdat dit so maklik is, omdat dit die standaard is, en omdat dit die beste invoermetode vir rekenaars is.

4. Chinese with Mike.  Sy lesse 2 – 7 is genoeg om Pinyin baas te raak.  Maar Mike het baie meer om te bied…

Mens sou nie verwag dat ‘n Amerikaner die beste persoon is om jou Sjinees te leer nie, maar miskien moet jy juis dit verwag, want iemand wat as volwassene die taal aangeleer het, verstaan dalk makliker wat dit is wat jy moet verstaan, en waarmee jy geneig is om te sukkel.  Iemand wat weet hoe om ‘n tweede taal aan te leer, verstaan iets van taalleer wat ‘n eerste taal spreker nie noodwendig verstaan nie. Mike se video lesse is hoog aangeskrewe op die web.  Daar is tans so 40 lesse, elkeen is so 15 minute lank.  Die eerste 10 HD Vimeo  is op chinesewithmike.com (eintlik net 9, want daar is ‘n fout op die bladsy – les 8 is nie daar nie, as jy op sy skakel kliek, herhaal les 3)

Les 8, en al die ander lesse, kan op Mike se YouTube kanaal gevind word (hier is al die videos in volgorde), insluitende die  eerste 10 lesse.  Aangesien die HD Vimeo videos baie bandwydte gebruik, is dit miskien die beste om al die lesse op die YouTube kanaal te kry.   Mens kan die lesse aflaai na jou rekenaar toe met behulp van ‘n Firefox add-on soos die Flash Video Downloader

Mike2

Rockstar in ‘n garage?

Mike het ‘n persona van hierdie ou in ‘n garage – moenie jou vervies as hy optree soos iemand wat te veel van homself dink of so iets nie.  Die feit is hy gebruik sy persona, en ander tricks en spesiale effekte, om dinge interessant te hou en om jou belangstelling te hou.  Hy slaag baie goed daarin om vermaaklik te wees, terwyl hy ook die beste (myns insiens) roete volg om jou doeltreffend Sjinees te leer.

Kyk byvoorbeeld hoe verduidelik hy voornaamwoorde, en hoe maklik dit in Sjinees is:

 

5. Apps.  Daar is baie apps om Sjinees (Mandaryn) te leer in die Google Play Store (en natuurlik in die Apple App store en ander app winkels).   Ek het al ‘n hele klomp probeer, en wil nog daaroor skryf.  Maar die punt van apps is dat jy enige tyd, wanneer jy iewers moet wag of wat ookal, daardie tyd kan gebruik deur met ‘n app Sjinees op jou foon te leer.  Dis ‘n ongelooflike voordeel wat ons nou het, bo hoe dit in die verlede was.

sjinese-apps

6. Ontdek nuwe maniere om Sjinees te leer met die Chinese Teacher’s blog (sien bv hulle Best Video resources for teaching Chinese), Watch to learn Chinese, en Chinese Hacks (sien bv hulle Resources).  Vir kulturele en politieke agtergrondinligting, kyk na Martin Jacques, Beijing Cream (sien hulle stuk What “Chinese With Mike” Does Wrong, And What It Does Right ) en die Sinocism China Newsletter

3 thoughts on “Padkaart om Sjinees te leer (1)

  1. Ek wil Frans leer, maar almal wat ek gevra het in Pretoria rond sê mens moet dit by Alliance France leer, en hulle bied klasse aan op tye wat ek nie kan bywoon nie. Nou dink ek dat ek weer die internet as leertoestel moet ondersoek …

  2. Hello Alet. DIe Internet het vreeslik baie om te bied – meer as wat mens kan gebruik. Die een hulpbron wat vir my uitstaan is fluentu.com – hulle het Frans (asook Sjinees, Spaans, Frans, Engels, Duits, Italiaans en Japanees). As jy ingeteken het, is daar ‘n magdom hulpbronne om te gebruik.

    Daar is ook ‘n yslike lys van hulpbronne op Reddit:
    http://www.reddit.com/r/French/comments/jvkt4/some_free_but_still_good_quality_resources/

    Elders word French in Action ook sterk aanbeveel – dis by http://www.learner.org/resources/series83.html

    Maar as jy ook kan lesse neem, sal die kontak met ander studente, en die verbintenis wat jy maak, dit meer werklik maak as wat die Internet op sy eie kan wees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s