Nils Holgersson se wonderbaarlike reis

Protea Boekhuis het in 2010 ‘n Afrikaanse vertaling van Selma Lagerlöf se boek Nils Holgersson se wonderbaarlike reis gedruk.  Mens sou die boek kon opsom as ‘n verhaal van fantasie, avontuur, geografie, bewaring,  dierelewe en verbeelding.

nils-holgersson

Die misterie van die vertaling deur RMR 

Protea se uitgawe is dieselfde mooi vertaling van die boek wat in 1950 uitgegee is, en wat vertaal is deur ‘n persoon wat hom/haar net as R.M.R identifiseer.  Hoekom sou iemand wat sulke goeie werk gedoen het, naamloos wou bly?  Lede van die  Taalgesprek Yahoo groep, het in 2000 gespekuleer dat dit Hymne Weiss kon gewees het.  In dieselfde debat is ook gesê dat “As ‘n mens mooi na die Afrikaans kyk, is dit baie duidelik dat dit nie werklik ‘n vertaling is nie, maar bloot ‘n soort verafrikaansde naskrywing van die Nederlandse vertaling”.  Dit kan so wees, of dit kan wees dat dit bloot goeie 1950’s Afrikaans was.  Ek het gedink die vertaling is baie mooi, en nie te moeilik vir ‘n kind om te verstaan nie.

Meer oor die boek

  • Die blogger by Woordfanatikus het verlede jaar ook oor hierdie pragtige boek geskryf, en ook baie daarvan gehou.  Lees gerus Wonderbaarlike Woorde uit Swede
  • Volgens die Wikipedia artikel, is Nils Holgersson se wonderbaarlike reis een van  Le Monde se 100 boeke van die eeu (soos gekies deur die Franse publiek)
  • Selma het die Nobelprys vir Letterkunde ontvang, hoofsaaklik op grond van Nils Holgersson se wonderbaarlike reis
  • Volgens die boek se agterblad, het Kenzaburō Ōe ( ‘n Japannese skrywer en Nobelpryswenner), die boek as volg beskryf:  Ek is ‘n vreemde Japannees wat sy kinder- en jeugjare onder die oorweldigende invloed van Nils Holgersson deurgebring het.  Nils se invloed was so groot op my dat daar ‘n tyd was toe ek Swede se pragtige plekke beter as my eie land s’n kon opnoem.

Goeie waardes

Soos baie fantasieverhale, sou ‘n mens kon sê dat die boek goeie waardes bevorder, en Nils se reis is een waartydens sy karakter omvorm word van iemand met baie slegte eienskappe na iemand wat bewonder kan word.  Die enigste dowwe kol in die boek is Lagerlöf se ietwat rassistiese beskrywing van die sigeuners (hulle het nie net allerlei slegte eienskappe nie, maar hul vroue is ook “lelik”).   Geen skrywer kan verby alle verkeerde aannames van sy tyd sien nie, en Lagerlöf se beskrywing van die sigeuners is nie verbasend vir iemand van haar tyd nie (die boek is in 2 dele in 1906 en 1907 in Sweeds gepubliseer).   Haar beskrywing van die inheemse Laplanders, die Sami mense wat ‘n groep van “First Peoples” is – dit wil sê oorspronklike inwoners of inboorlinge wie se land gekoloniseer is, is baie positief – bewonderend, selfs.   Daarom dink ek mens kan maar die gedeelte oor die sigeuners  verduidelik as ‘n skadelike siening van daardie tyd, waaraan selfs Lagerlöf nie ontkom het nie, al was sy eintlik ‘n progressiewe skryfster.

Die boek se goeie waardes is volop.  Byvoorbeeld die beroep wat regdeur die boek gemaak word om die wilde plekke te bewaar, en te los vir wilde diere en voels.  Die manier hoe Nils leer hoe om ‘n lojale, dapper en eerbare medereisiger te word, en die voorbeeld van leierskap van die leiergans, Akka van Kebnekasje.  Selfs die gedeelte oor die handwerkskool by Nääs het my seun vuur en vlam gehad om ook handwerk, en houtwerk te leer!

Kry die boek, voor jou kans verby gaan!