Lugverkeer dui ekonomiese aktiwiteit aan

Advertisements

Wat elke leerling moet weet van die Internet

Ek is bly om te sien daar is nou ‘n blog oor kuberboelies en die effekte van sosiale netwerke. As ‘n ouer of ‘n skool die kwessies  rondom die gebruik van die Internet wil behandel, dink ek minstens die volgende moet ook oor gepraat word.

  • Anonimiteit maak party mense gemener as wat hulle normaalweg sal waag om te wees.  Dana Snyman het so goed daaroor geskyf in Sako3006 vuur die skuilkoeels af .  Hierdie stuk van Dana behoort eintlik ‘n soort voorgeskrewe werk te word op skool.
  • Dis baie maklik om iets op die Internet kwyt te raak.  As dit iets is waaroor jy later gaan skaam kry, kry dit maklik ‘n lewe van sy eie, word gerepliseer en ge-herpubliseer op die Internet, en jy kan nie weer daardie klad op jou naam wegkry nie.
  • Verder oor die vorige punt.  Rassisme word nog in sekere kringe in SA met rus gelaat.  Die aantal plekke waar rassiste openlik hul ding kan doen is vinnig aan die krimp (in lyn met die res van die wereld.)  Rassisme gaan net so sosiaal onaanvaarbaar word soos aanranding.  As jy jou naam as jong mens aan rassisme koppel, kan dit vir die res van jou lewe ‘n struikelblok wees, byvoorbeeld wanneer jy ‘n werk probeer kry.  Sien ook wat Flip Buys van Solidariteit daaroor skryf.  Rassisme is dom en skadelik vir almal, jyself inkluis – moenie daarby betrokke raak nie.
  • Regerings spioeneer op hul eie burgers via die Internet.  Die  Amerikaanse en Britse regerings doen dit op die grootste skaal, maar seker enige regering sal as hy kan.   Daarom moet elke mens waak oor sy vryhede op die Web teen hierdie geneigdheid van regerings  om hul eie burgers se regte en privaatheid te skend.  
  • Jou baas kan, en sal moontlik ook, op jou spioeneer – jou eposse lees, en bewus wees van wat jy alles op die Internet doen.  Die beste ding om hieraan te doen, is om slegs jou werk se dinge op jou werk se rekenaars en mobiele toestelle te doen.  Wees professioneel en hou jou privaatlewe geheel en al apart.
  • Internet maatskappye gebruik alles wat jy op die Internet doen, om databasisse saam te stel oor waarin mense belangstel, wat hulle van hou, wat hulle vrees, waarna hulle soek ensovoorts.  Hierdie inligting word onder meer gebruik om advertensies te teiken, en idees vir nuwe produkte te verkry.   Soms word inligting oor individue deur sosiale netwerke aan regeringsinstansies soos die polisie en spioenasiedienste deurgegee.  Mense se persoonlike inligting is die nuwe goud wat gemyn kan word – veral deur die heel groot Internet maatskappye:  Google, Facebook, Amazon, Apple, Yahoo en Microsoft.  Vir maatskappye soos hierdie, is jy die produk, nie die klant nie.
  • Vir idees oor watter tegnologie om jou privaatheid miskien die beste kan beskerm teen die staat en maatskappye, besoek gerus Peng Zhong se Prismbreak.
  • Daar is baie bedrëers op die Internet.  Jy sal nooit $1000 000 wen net omdat omdat jy die 10 000ste besoeker aan ‘n webbladsy is nie.  Daar is ook nie so iets soos iemand wat net ‘n sekere bedrag van jou benodig, om dan ‘n baie groter bedrag (miljoene) te kan laat loskom, wat dan met jou gedeel sal word nie.  ‘n Wildvreemde wat met jou kontak maak, is amper altyd verdag, en as hy jou geld aanbied moet die alarms afgaan!
  • Tegnologie, en alles wat daar is op die Internet, moet net daar wees om mense te help – nie ‘n doel insigself word nie.  Mens moenie dat tegnologie jou verslaaf, of so ‘n groot belang in jou lewe word, dat dit tussen jou en jou werklike lewe, en jou menseverhoudings kom nie.
  • Moenie net groot oorsese Internetmaatskappye en idees ondersteun nie.  As jy kan, ondersteun ook plaaslike maatskappye, ter wille van plaaslike werkskepping.
  • Die Internet is onder meer ook ‘n plek waar jy ‘n bydrae kan lewer – byvoorbeeld deur vrywillig aan projekte deel te neem wat van nut is.   Jy kan Afrikaans ook ondersteun op die Web!  Hoekom net bou aan die Amerikaner en Brit se dominansie op die Web?
  • Die Internet is propvol bronne om dinge te leer wat regtig van belang is.
  • Laastens: Moenie in hoofletters tik nie – dit lyk of jy skree!

facebook