Een manier om ‘n begin te maak met Sjinese skrif, is Chineasy – kleurvolle visuele voorstellings van Sjinese karakters deur ShaoLan Hsueh:
Hier verduidelik sy haar visuele stelsel:
Maar, Victor Mair het kwaai kritiek op haar benadering – sien hier. Volgens hom is Sjinees is een van die maklikste tale om te leer praat, maar om Sjinese skrif te leer is ‘n groot uitdaging, nie net vir Westerlinge nie, maar ook vir Sjinese self. Ek dink hy is reg daaroor, en dat Chineasy beslis nie ‘n towerstaffie is nie.
Tog is dit nie sonder waarde nie – myns insiens is dit ‘n prettige manier vir beginners om te begin kyk na Sjinese skrif, en hoe betekenis gevorm word deur die samevoeging van ‘radicals‘ .
Ek het nie ‘n iOS foon of tablet nie, so ek kan nie ‘n opinie oor hierdie apps vorm nie, maar Carien van Zyl het ‘n kommentaar gelos oor twee opvoedkundige apps wat sy gemaak het:
Hiermee wil ek graag ‘n bydrae maak tot die Afrikaanse apps. Ek het onlangs 2 opvoedkundige apps uitgebring. Hulle is ongelukkig op die oomblik nog net vir iOS beskikbaar, maar ek hoop om hulle binnekort ook gereed te he vir Android.
Ek het nou al heelwat voetwerk gedoen om te verstaan wat nodig is om Sjinees te leer. My gevolgtrekking is dat dit nie so moeilik is as wat jy dalk dink nie, en beslis makliker is as wat dit slegs enkele jare gelede was, danksy uitstekende hulpbronne wat beskikbaar is op die Web. So hier is wat ek dink nodig is – verskeie benaderings wat jy terselfdertyd kan volg:
1. Formele lesse . Deur formele lesse te neem, maak jy ‘n geldelike verbintenis. As jy nie ‘n sterk verbintenis maak om Sjinees te leer nie, sal jy heel waarskynlik dit nie volhou nie – dis wat met die meeste mense gebeur wat op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n ander taal aan te leer. As jy klasse loop het jy ook Sjinees as deel van jou week se roetine, en begin jy met daardie menslike kontak met Sjinees, wat so nodig is.
2. ‘n Les een keer per week is nie genoeg nie – jy moet elke dag leer en oefen. Gelukkig is daar baie bronne op die Internet, asook apps en ander hulpbronne wat jy kan gebruik.
Leer die 3000 mees algemene Sjinese woorde. Hierdie lys deur Patrick Hassel Zein, is gebasseer op navorsing deur Jun Da. Hulle skat dat as jy slegs die 100 mees algemene woorde leer, jy reeds 42% van die taal kan verstaan. Met die 200 mees algemene woorde, styg jou begrip na 55%, en so aan – op na net meer as 99% as jy die 3000 mees algemene woorde ken. Daarom maak dit absolute sin om die woorde in volgorde van gebruiksfrekwensie te leer. Skryf die Sjinese karakter, asook sy betekenis neer op papier vanaf Patrick se webbladsy. Jy moet die karakters self skryf om hulle te kan onthou. Skryf die karakter (woord) en sy betekenis in Afrikaans of Engels neer, en gebruik ‘n app soos Google Translate om te luister hoe hy klink.
As jy meesal so 5 per dag leer, kan jy miskien die 3000 binne 2 jaar baasraak (maar jy sal telkens die woorde wat jy reeds geleer het, moet hersien). Doen hierdie 5 woorde per dag onafhanklik van die ander maniere hoe jy Sjinees leer.
Die verduidelikings van die woorde is miskien meer as wat ‘n beginner nodig het. Byvoorbeeld 了 beteken bloot ‘die’ (the). Google Translate is baie goed daarmee om ‘n woord se eenvoudigste of mees algemene betekenis te vind.
3. Leer Pinjin, dis baie maklik, en jy kan dit binne ‘n uur of twee baasraak. Moenie die alternatiewe leer nie – as jy wel besluit om eerder Zhuyin (Bopomofo) of Wade–Giles te leer, moet jy baie mooi verstaan hoekom jy dit kies. Mens kan byvoorbeeld besluit om Zhuyin te leer as jy Taiwan toe wil gaan, maar selfs dan is dit die moeite werd om Pinjin te leer omdat dit so maklik is, omdat dit die standaard is, en omdat dit die beste invoermetode vir rekenaars is.
4. Chinese with Mike. Sy lesse 2 – 7 is genoeg om Pinyin baas te raak. Maar Mike het baie meer om te bied…
Mens sou nie verwag dat ‘n Amerikaner die beste persoon is om jou Sjinees te leer nie, maar miskien moet jy juis dit verwag, want iemand wat as volwassene die taal aangeleer het, verstaan dalk makliker wat dit is wat jy moet verstaan, en waarmee jy geneig is om te sukkel. Iemand wat weet hoe om ‘n tweede taal aan te leer, verstaan iets van taalleer wat ‘n eerste taal spreker nie noodwendig verstaan nie. Mike se video lesse is hoog aangeskrewe op die web. Daar is tans so 40 lesse, elkeen is so 15 minute lank. Die eerste 10 HD Vimeo is op chinesewithmike.com (eintlik net 9, want daar is ‘n fout op die bladsy – les 8 is nie daar nie, as jy op sy skakel kliek, herhaal les 3)
Les 8, en al die ander lesse, kan op Mike se YouTube kanaal gevind word (hier is al die videos in volgorde), insluitende die eerste 10 lesse. Aangesien die HD Vimeo videos baie bandwydte gebruik, is dit miskien die beste om al die lesse op die YouTube kanaal te kry. Mens kan die lesse aflaai na jou rekenaar toe met behulp van ‘n Firefox add-on soos die Flash Video Downloader
Rockstar in ‘n garage?
Mike het ‘n persona van hierdie ou in ‘n garage – moenie jou vervies as hy optree soos iemand wat te veel van homself dink of so iets nie. Die feit is hy gebruik sy persona, en ander tricks en spesiale effekte, om dinge interessant te hou en om jou belangstelling te hou. Hy slaag baie goed daarin om vermaaklik te wees, terwyl hy ook die beste (myns insiens) roete volg om jou doeltreffend Sjinees te leer.
Kyk byvoorbeeld hoe verduidelik hy voornaamwoorde, en hoe maklik dit in Sjinees is:
5. Apps. Daar is baie apps om Sjinees (Mandaryn) te leer in die Google Play Store (en natuurlik in die Apple App store en ander app winkels). Ek het al ‘n hele klomp probeer, en wil nog daaroor skryf. Maar die punt van apps is dat jy enige tyd, wanneer jy iewers moet wag of wat ookal, daardie tyd kan gebruik deur met ‘n app Sjinees op jou foon te leer. Dis ‘n ongelooflike voordeel wat ons nou het, bo hoe dit in die verlede was.
Ek is eintlik teen die idee dat daar ‘n heel beste (en tweede beste en so aan) boek kan wees. Hierdie dinge kan nie gemeet word in nommers nie. Tog is daar ‘n paar kinderboeke wat vir my uitstaan…
Momo – Michael Ende
Uit Duits vertaal deur Helene de Villiers – 1977
Die vreemde verhaal van die tyddiewe en van die kind wat vir die mense hulle gesteelde tyd weer teruggebring het : ‘n sprokies-roman
ISBN: 0 624 00961 0
***
Nils Holgersson se wonderbaarlike reis – Selma Lagerlöf
Ek dink nie daar bestaan ‘n goeie Afrikaanse vertaling hiervan nie – net verkorte, afgewaterde vertalings. Mens moet hierdie boek in sy oorspronklike, onveranderde Engels lees, nie enige van die baie ander weergawes nie.
***
‘n Baie verliefde klein krokodilletjie – Daniela Kulot
Oorspronklike titel: Ein kleines Krokodil mit ziemlich viel Gefühl
Protea Boekhuis het in 2010 ‘n Afrikaanse vertaling van Selma Lagerlöf se boek Nils Holgersson se wonderbaarlike reis gedruk. Mens sou die boek kon opsom as ‘n verhaal van fantasie, avontuur, geografie, bewaring, dierelewe en verbeelding.
Die misterie van die vertaling deur RMR
Protea se uitgawe is dieselfde mooi vertaling van die boek wat in 1950 uitgegee is, en wat vertaal is deur ‘n persoon wat hom/haar net as R.M.R identifiseer. Hoekom sou iemand wat sulke goeie werk gedoen het, naamloos wou bly? Lede van die Taalgesprek Yahoo groep, het in 2000 gespekuleer dat dit Hymne Weiss kon gewees het. In dieselfde debat is ook gesê dat “As ‘n mens mooi na die Afrikaans kyk, is dit baie duidelik dat dit nie werklik ‘n vertaling is nie, maar bloot ‘n soort verafrikaansde naskrywing van die Nederlandse vertaling”. Dit kan so wees, of dit kan wees dat dit bloot goeie 1950’s Afrikaans was. Ek het gedink die vertaling is baie mooi, en nie te moeilik vir ‘n kind om te verstaan nie.
Selma het die Nobelprys vir Letterkunde ontvang, hoofsaaklik op grond van Nils Holgersson se wonderbaarlike reis
Volgens die boek se agterblad, het Kenzaburō Ōe ( ‘n Japannese skrywer en Nobelpryswenner), die boek as volg beskryf: Ek is ‘n vreemde Japannees wat sy kinder- en jeugjare onder die oorweldigende invloed van Nils Holgersson deurgebring het. Nils se invloed was so groot op my dat daar ‘n tyd was toe ek Swede se pragtige plekke beter as my eie land s’n kon opnoem.
Goeie waardes
Soos baie fantasieverhale, sou ‘n mens kon sê dat die boek goeie waardes bevorder, en Nils se reis is een waartydens sy karakter omvorm word van iemand met baie slegte eienskappe na iemand wat bewonder kan word. Die enigste dowwe kol in die boek is Lagerlöf se ietwat rassistiese beskrywing van die sigeuners (hulle het nie net allerlei slegte eienskappe nie, maar hul vroue is ook “lelik”). Geen skrywer kan verby alle verkeerde aannames van sy tyd sien nie, en Lagerlöf se beskrywing van die sigeuners is nie verbasend vir iemand van haar tyd nie (die boek is in 2 dele in 1906 en 1907 in Sweeds gepubliseer). Haar beskrywing van die inheemse Laplanders, die Sami mense wat ‘n groep van “First Peoples” is – dit wil sê oorspronklike inwoners of inboorlinge wie se land gekoloniseer is, is baie positief – bewonderend, selfs. Daarom dink ek mens kan maar die gedeelte oor die sigeuners verduidelik as ‘n skadelike siening van daardie tyd, waaraan selfs Lagerlöf nie ontkom het nie, al was sy eintlik ‘n progressiewe skryfster.
Die boek se goeie waardes is volop. Byvoorbeeld die beroep wat regdeur die boek gemaak word om die wilde plekke te bewaar, en te los vir wilde diere en voels. Die manier hoe Nils leer hoe om ‘n lojale, dapper en eerbare medereisiger te word, en die voorbeeld van leierskap van die leiergans, Akka van Kebnekasje. Selfs die gedeelte oor die handwerkskool by Nääs het my seun vuur en vlam gehad om ook handwerk, en houtwerk te leer!
Hierdie blog gaan nie net oor wiskunde en tegnologie wees nie, maar ook probeer om oor verbeelding, wetenskap, boeke, Sjinees en tale te skryf op ‘n manier wat veral van belang is vir onderwysers en skoliere.
Die Economist het ‘n artikel wat skryf oor die verband tussen hoe goed ‘n land se mense met Wiskunde vaar, en die land se ekonomiese groei. Die artikel spekuleer ook oor of hoofrekene oefen leerlinge help of hinder om nuwe, ingewikkelde probleme op te los. Slegs 2-3% van 15-jariges in die VSA en Europa kan sulke probleme oplos, terwyl ‘n derde van Oosterse leerlinge (waar van jongs af hoofrekene geoefen word) dit kan doen. Mens kan dus aanvaar dat gereelde oefening in hoofrekene leerlinge help om logies oor nuwe soorte probleme te kan dink.
Suid-Afrika neem nie aan die PISA toetse deel nie (Tunisië is die enigste Afrika land wat doen)
Sjina neem nie as land deel nie, maar sekere stede soos Sjanghai neem deel. Sjanghai is is baie verder ontwikkeld as groot dele van Sjina, so ‘n mens kan aanvaar dat Sjina as geheel nie beter as lande soos Singapoer en Suid-Korea sou vaar nie
Martin Jacques skryf baie interessant oor die groeiende invloed van Sjina, en die belangrikheid daarvan om Sjinees te leer. As jy hierdie lees, of die video heel onder kyk, gaan jy bes moontlik besluit om Sjinees te leer, of om jou kinders dit te laat leer. Dit is ook nie so ‘n onbegonne taak as wat jy dalk dink nie, want daar is ‘n magdom hulpmiddele, asook insigte in taal aanleer, wat jou kan help. (Meer daaroor later).
Martin se blog, asook sy praatjies op die BBC, en ook in baie ander plekke soos universiteite wêreldwyd, is ‘n baie goeie beginpunt om Sjina, en Sjina se rol in die wêreld, te begin verstaan. Jy kan hom ook op Twitter volg
Ek hoop om werklike Afrikaanse Apps (wat vir Afrikaanssprekendes gemaak is) op hierdie website te lys en oor te skryf. Enigeen wat voorstelle het, kan gerus ‘n kommentaar los. Ongelukkig is die oes maar skraal – behalwe as daar baie is wat ek misgekyk het. Boonop het ek Apple iOS , Blackberry, Windows Phone en Firefox OS buite rekening gelaat want ek het nie enige sulke toestelle nie. As enigeen wil bydra om oor ander platforms (of enige iets anders) te skryf – los gerus ‘n kommentaar.
Dis nie ‘n maklike taak om werklike Afrikaanse Apps te identifiseer nie, want mense kan Apps wat aanspraak maak op Afrikaans opdeel in verskeie groepe: blote spam, meertalige apps wat ook ‘n Afrikaanse verstelling het, en apps wat werklik vir Afrikaansprekendes gemaak is. Daar is ook hordes apps wat aanspraak maak daarop dat jy dit kan gebruik om Afrikaans te leer – ek het hulle vir eers buite rekening gelaat.
Spam apps
Dit is moontlik vir enigeen om sy app in die Google Play store te merk (tag) as “Afrikaans”, so as jy soek vir Afrikaans kry baie resultate wat niks met Afrikaans te doen het nie, en ook van min belang vir die meeste Afrikaanssprekendes sal wees. Boonop is daar ‘n verdere irritasie dat dienste soos Google Translate dit vir enigeen moontlik maak om sy app beskrywing in enige taal wat hy nie ken nie, te vertaal. Dis eintlik ‘n vorm van spam. Byvoorbeeld ‘n ontwikkelaar met die naam “American Sports”, het ‘n app met die naam “Afrikaans” – wat eintlik Manchester United nuus bevat. Die beskrywing bevat ook outomaties vertaalde besoedeling soos hierdie:
Aflaai Manchester United Jongste Nuus nou gratis en die eerste een wees van hierdie wonderlike nuwe inligting wat sal maak dat jy waardeer sokker nog meer te hê!
en
Kry hierdie fenomenale aansoek nou en die held van die dag !
Dis werklik nodig dat Google hierdie nonsens stopsit.
Meertalige apps
Hierdie is nou apps wat werk in Engels (of soms dalk ander tale ook) en Afrikaans – waar werklike werk gedoen is om die app in Afrikaans te laat werk.
Daar is hierdie apps uit die Naspers Media24 stal – jy ken die publikasies, so jy kan weet wat om te verwag – ‘n baie goeie manier om hierdie publikasies te lees:
Arithmethon is ‘n hoofrekene en Wiskunde oefenprogram met lang vrae (woordvrae), kwadrate, vierkantswortels, negatiewe getalle, optel, aftrek, maal, deel ensovoorts