Een manier om ‘n begin te maak met Sjinese skrif, is Chineasy – kleurvolle visuele voorstellings van Sjinese karakters deur ShaoLan Hsueh:
Hier verduidelik sy haar visuele stelsel:
Maar, Victor Mair het kwaai kritiek op haar benadering – sien hier. Volgens hom is Sjinees is een van die maklikste tale om te leer praat, maar om Sjinese skrif te leer is ‘n groot uitdaging, nie net vir Westerlinge nie, maar ook vir Sjinese self. Ek dink hy is reg daaroor, en dat Chineasy beslis nie ‘n towerstaffie is nie.
Tog is dit nie sonder waarde nie – myns insiens is dit ‘n prettige manier vir beginners om te begin kyk na Sjinese skrif, en hoe betekenis gevorm word deur die samevoeging van ‘radicals‘ .
Ek het nou al heelwat voetwerk gedoen om te verstaan wat nodig is om Sjinees te leer. My gevolgtrekking is dat dit nie so moeilik is as wat jy dalk dink nie, en beslis makliker is as wat dit slegs enkele jare gelede was, danksy uitstekende hulpbronne wat beskikbaar is op die Web. So hier is wat ek dink nodig is – verskeie benaderings wat jy terselfdertyd kan volg:
1. Formele lesse . Deur formele lesse te neem, maak jy ‘n geldelike verbintenis. As jy nie ‘n sterk verbintenis maak om Sjinees te leer nie, sal jy heel waarskynlik dit nie volhou nie – dis wat met die meeste mense gebeur wat op die ingewing van die oomblik besluit om ‘n ander taal aan te leer. As jy klasse loop het jy ook Sjinees as deel van jou week se roetine, en begin jy met daardie menslike kontak met Sjinees, wat so nodig is.
2. ‘n Les een keer per week is nie genoeg nie – jy moet elke dag leer en oefen. Gelukkig is daar baie bronne op die Internet, asook apps en ander hulpbronne wat jy kan gebruik.
Leer die 3000 mees algemene Sjinese woorde. Hierdie lys deur Patrick Hassel Zein, is gebasseer op navorsing deur Jun Da. Hulle skat dat as jy slegs die 100 mees algemene woorde leer, jy reeds 42% van die taal kan verstaan. Met die 200 mees algemene woorde, styg jou begrip na 55%, en so aan – op na net meer as 99% as jy die 3000 mees algemene woorde ken. Daarom maak dit absolute sin om die woorde in volgorde van gebruiksfrekwensie te leer. Skryf die Sjinese karakter, asook sy betekenis neer op papier vanaf Patrick se webbladsy. Jy moet die karakters self skryf om hulle te kan onthou. Skryf die karakter (woord) en sy betekenis in Afrikaans of Engels neer, en gebruik ‘n app soos Google Translate om te luister hoe hy klink.
As jy meesal so 5 per dag leer, kan jy miskien die 3000 binne 2 jaar baasraak (maar jy sal telkens die woorde wat jy reeds geleer het, moet hersien). Doen hierdie 5 woorde per dag onafhanklik van die ander maniere hoe jy Sjinees leer.
Die verduidelikings van die woorde is miskien meer as wat ‘n beginner nodig het. Byvoorbeeld 了 beteken bloot ‘die’ (the). Google Translate is baie goed daarmee om ‘n woord se eenvoudigste of mees algemene betekenis te vind.
3. Leer Pinjin, dis baie maklik, en jy kan dit binne ‘n uur of twee baasraak. Moenie die alternatiewe leer nie – as jy wel besluit om eerder Zhuyin (Bopomofo) of Wade–Giles te leer, moet jy baie mooi verstaan hoekom jy dit kies. Mens kan byvoorbeeld besluit om Zhuyin te leer as jy Taiwan toe wil gaan, maar selfs dan is dit die moeite werd om Pinjin te leer omdat dit so maklik is, omdat dit die standaard is, en omdat dit die beste invoermetode vir rekenaars is.
4. Chinese with Mike. Sy lesse 2 – 7 is genoeg om Pinyin baas te raak. Maar Mike het baie meer om te bied…
Mens sou nie verwag dat ‘n Amerikaner die beste persoon is om jou Sjinees te leer nie, maar miskien moet jy juis dit verwag, want iemand wat as volwassene die taal aangeleer het, verstaan dalk makliker wat dit is wat jy moet verstaan, en waarmee jy geneig is om te sukkel. Iemand wat weet hoe om ‘n tweede taal aan te leer, verstaan iets van taalleer wat ‘n eerste taal spreker nie noodwendig verstaan nie. Mike se video lesse is hoog aangeskrewe op die web. Daar is tans so 40 lesse, elkeen is so 15 minute lank. Die eerste 10 HD Vimeo is op chinesewithmike.com (eintlik net 9, want daar is ‘n fout op die bladsy – les 8 is nie daar nie, as jy op sy skakel kliek, herhaal les 3)
Les 8, en al die ander lesse, kan op Mike se YouTube kanaal gevind word (hier is al die videos in volgorde), insluitende die eerste 10 lesse. Aangesien die HD Vimeo videos baie bandwydte gebruik, is dit miskien die beste om al die lesse op die YouTube kanaal te kry. Mens kan die lesse aflaai na jou rekenaar toe met behulp van ‘n Firefox add-on soos die Flash Video Downloader
Rockstar in ‘n garage?
Mike het ‘n persona van hierdie ou in ‘n garage – moenie jou vervies as hy optree soos iemand wat te veel van homself dink of so iets nie. Die feit is hy gebruik sy persona, en ander tricks en spesiale effekte, om dinge interessant te hou en om jou belangstelling te hou. Hy slaag baie goed daarin om vermaaklik te wees, terwyl hy ook die beste (myns insiens) roete volg om jou doeltreffend Sjinees te leer.
Kyk byvoorbeeld hoe verduidelik hy voornaamwoorde, en hoe maklik dit in Sjinees is:
5. Apps. Daar is baie apps om Sjinees (Mandaryn) te leer in die Google Play Store (en natuurlik in die Apple App store en ander app winkels). Ek het al ‘n hele klomp probeer, en wil nog daaroor skryf. Maar die punt van apps is dat jy enige tyd, wanneer jy iewers moet wag of wat ookal, daardie tyd kan gebruik deur met ‘n app Sjinees op jou foon te leer. Dis ‘n ongelooflike voordeel wat ons nou het, bo hoe dit in die verlede was.
Hierdie blog gaan nie net oor wiskunde en tegnologie wees nie, maar ook probeer om oor verbeelding, wetenskap, boeke, Sjinees en tale te skryf op ‘n manier wat veral van belang is vir onderwysers en skoliere.
Martin Jacques skryf baie interessant oor die groeiende invloed van Sjina, en die belangrikheid daarvan om Sjinees te leer. As jy hierdie lees, of die video heel onder kyk, gaan jy bes moontlik besluit om Sjinees te leer, of om jou kinders dit te laat leer. Dit is ook nie so ‘n onbegonne taak as wat jy dalk dink nie, want daar is ‘n magdom hulpmiddele, asook insigte in taal aanleer, wat jou kan help. (Meer daaroor later).
Martin se blog, asook sy praatjies op die BBC, en ook in baie ander plekke soos universiteite wêreldwyd, is ‘n baie goeie beginpunt om Sjina, en Sjina se rol in die wêreld, te begin verstaan. Jy kan hom ook op Twitter volg