Die heel beste kinderboeke

Ek is eintlik teen die idee dat daar ‘n heel beste (en tweede beste en so aan) boek kan wees.   Hierdie dinge kan nie gemeet word in nommers nie.  Tog is daar ‘n paar kinderboeke wat vir my uitstaan…

Momo –  Michael Ende

Uit Duits vertaal deur Helene de Villiers – 1977

Die vreemde verhaal van die tyddiewe en van die kind wat vir die mense hulle gesteelde tyd weer teruggebring het : ‘n sprokies-roman

ISBN: 0 624 00961 0

momo

***

Nils Holgersson se wonderbaarlike reis – Selma Lagerlöf

ISBN: 978 1 86919 377 5

Lees hier, en hier meer oor die boek.

nils-holgersson

 

***

The Adventures of Huckleberry Finn – Mark Twain

Ek dink nie daar bestaan ‘n goeie Afrikaanse vertaling hiervan nie – net verkorte, afgewaterde vertalings.  Mens moet hierdie boek in sy oorspronklike, onveranderde Engels lees, nie enige van die baie ander weergawes nie.

Huck-en-Jim

huck-jim-flot

***

‘n Baie verliefde klein krokodilletjie – Daniela Kulot

Oorspronklike titel: Ein kleines Krokodil mit ziemlich viel Gefühl

Uit Duits vertaal deur Nicol Stassen

ISBN: 978 1 86919 513 7

Daniela het ook ‘n WordPress blog!

daniela

 

***

How to live forever – Colin Thompson

ISBN: 978 0 099 46181 4

Van al Colin se wonderlike boeke, is hierdie een seker die mooiste

how-to-live-forever

***

Me, all alone at the end of the world –  M.T Anderson, illustrasies Kevin Hawkes

ISBN: 978 1 4063 0482 4

me-all-alone-at-the-end-of-the-world

***

‘n Feëverhaal – Werner van Pletzen

ISBN: 9780620550673

Werner het ook ‘n WordPress blog!

Feëverhaal

***

The Runaway Train – Benedict Blathwayt 

runawaytrain

***

Wilfred  Gordon McDonald Partridge – Mem Fox, Illustrasies: Julie Vivas

wilfrid

Nils Holgersson se wonderbaarlike reis

Protea Boekhuis het in 2010 ‘n Afrikaanse vertaling van Selma Lagerlöf se boek Nils Holgersson se wonderbaarlike reis gedruk.  Mens sou die boek kon opsom as ‘n verhaal van fantasie, avontuur, geografie, bewaring,  dierelewe en verbeelding.

nils-holgersson

Die misterie van die vertaling deur RMR 

Protea se uitgawe is dieselfde mooi vertaling van die boek wat in 1950 uitgegee is, en wat vertaal is deur ‘n persoon wat hom/haar net as R.M.R identifiseer.  Hoekom sou iemand wat sulke goeie werk gedoen het, naamloos wou bly?  Lede van die  Taalgesprek Yahoo groep, het in 2000 gespekuleer dat dit Hymne Weiss kon gewees het.  In dieselfde debat is ook gesê dat “As ‘n mens mooi na die Afrikaans kyk, is dit baie duidelik dat dit nie werklik ‘n vertaling is nie, maar bloot ‘n soort verafrikaansde naskrywing van die Nederlandse vertaling”.  Dit kan so wees, of dit kan wees dat dit bloot goeie 1950’s Afrikaans was.  Ek het gedink die vertaling is baie mooi, en nie te moeilik vir ‘n kind om te verstaan nie.

Meer oor die boek

  • Die blogger by Woordfanatikus het verlede jaar ook oor hierdie pragtige boek geskryf, en ook baie daarvan gehou.  Lees gerus Wonderbaarlike Woorde uit Swede
  • Volgens die Wikipedia artikel, is Nils Holgersson se wonderbaarlike reis een van  Le Monde se 100 boeke van die eeu (soos gekies deur die Franse publiek)
  • Selma het die Nobelprys vir Letterkunde ontvang, hoofsaaklik op grond van Nils Holgersson se wonderbaarlike reis
  • Volgens die boek se agterblad, het Kenzaburō Ōe ( ‘n Japannese skrywer en Nobelpryswenner), die boek as volg beskryf:  Ek is ‘n vreemde Japannees wat sy kinder- en jeugjare onder die oorweldigende invloed van Nils Holgersson deurgebring het.  Nils se invloed was so groot op my dat daar ‘n tyd was toe ek Swede se pragtige plekke beter as my eie land s’n kon opnoem.

Goeie waardes

Soos baie fantasieverhale, sou ‘n mens kon sê dat die boek goeie waardes bevorder, en Nils se reis is een waartydens sy karakter omvorm word van iemand met baie slegte eienskappe na iemand wat bewonder kan word.  Die enigste dowwe kol in die boek is Lagerlöf se ietwat rassistiese beskrywing van die sigeuners (hulle het nie net allerlei slegte eienskappe nie, maar hul vroue is ook “lelik”).   Geen skrywer kan verby alle verkeerde aannames van sy tyd sien nie, en Lagerlöf se beskrywing van die sigeuners is nie verbasend vir iemand van haar tyd nie (die boek is in 2 dele in 1906 en 1907 in Sweeds gepubliseer).   Haar beskrywing van die inheemse Laplanders, die Sami mense wat ‘n groep van “First Peoples” is – dit wil sê oorspronklike inwoners of inboorlinge wie se land gekoloniseer is, is baie positief – bewonderend, selfs.   Daarom dink ek mens kan maar die gedeelte oor die sigeuners  verduidelik as ‘n skadelike siening van daardie tyd, waaraan selfs Lagerlöf nie ontkom het nie, al was sy eintlik ‘n progressiewe skryfster.

Die boek se goeie waardes is volop.  Byvoorbeeld die beroep wat regdeur die boek gemaak word om die wilde plekke te bewaar, en te los vir wilde diere en voels.  Die manier hoe Nils leer hoe om ‘n lojale, dapper en eerbare medereisiger te word, en die voorbeeld van leierskap van die leiergans, Akka van Kebnekasje.  Selfs die gedeelte oor die handwerkskool by Nääs het my seun vuur en vlam gehad om ook handwerk, en houtwerk te leer!

Kry die boek, voor jou kans verby gaan!

Die lekker van leer

Hierdie blog gaan nie net oor wiskunde en tegnologie wees nie, maar ook probeer om oor verbeelding, wetenskap, boeke, Sjinees en tale te skryf op ‘n manier wat veral van belang is vir onderwysers en skoliere.

Hoofrekene vs leer om te dink

Die Economist het ‘n artikel wat skryf oor die verband tussen hoe goed ‘n land se mense met Wiskunde vaar, en die land se ekonomiese groei.  Die artikel spekuleer ook oor of hoofrekene oefen leerlinge help of hinder  om nuwe, ingewikkelde probleme op te los.  Slegs 2-3% van 15-jariges in die VSA en Europa kan sulke probleme oplos, terwyl ‘n derde van Oosterse leerlinge (waar van jongs af hoofrekene geoefen word) dit kan doen.  Mens kan dus aanvaar dat gereelde oefening in hoofrekene leerlinge help om logies oor nuwe soorte probleme te kan dink.

  • Suid-Afrika neem nie aan die PISA toetse deel nie (Tunisië is die enigste Afrika land wat doen)
  • Sjina neem nie as land deel nie, maar sekere stede soos Sjanghai neem deel.  Sjanghai is is baie verder ontwikkeld as groot dele van Sjina, so ‘n mens kan aanvaar dat Sjina as geheel nie beter as lande soos Singapoer en Suid-Korea sou vaar nie

pisa

 

Hoekom jy Sjinees behoort te leer

Martin Jacques skryf baie interessant oor die groeiende invloed van Sjina, en die belangrikheid daarvan om Sjinees te leer.  As jy hierdie lees, of die video heel onder kyk, gaan jy bes moontlik besluit om Sjinees te leer, of om jou kinders dit te laat leer. Dit is ook nie so ‘n onbegonne taak as wat jy dalk dink nie, want daar is ‘n magdom hulpmiddele, asook insigte in taal aanleer, wat jou kan help.  (Meer daaroor later).
Martin se blog, asook sy praatjies op die BBC, en ook in baie ander plekke soos universiteite wêreldwyd, is ‘n baie goeie beginpunt om Sjina, en Sjina se rol in die wêreld, te begin verstaan.  Jy kan hom ook op Twitter volg

Pic. Craig Hibbert 10-7-09 Author Martin Jacques.

‘n Eerste kyk na Afrikaanse Apps

Ek hoop om werklike Afrikaanse Apps (wat vir Afrikaanssprekendes gemaak is) op hierdie website te lys en oor te skryf.  Enigeen wat voorstelle het, kan gerus ‘n kommentaar los.  Ongelukkig is die oes maar skraal – behalwe as daar baie is wat ek misgekyk het.  Boonop het ek Apple iOS , Blackberry, Windows Phone en Firefox OS buite rekening gelaat want ek het nie enige sulke toestelle nie.  As enigeen wil bydra om oor ander platforms (of enige iets anders) te skryf – los gerus ‘n kommentaar.

Dis nie ‘n maklike taak  om werklike Afrikaanse Apps te identifiseer nie, want mense kan Apps wat aanspraak maak op Afrikaans opdeel in verskeie groepe: blote spam, meertalige apps wat ook ‘n Afrikaanse verstelling het, en apps wat werklik vir Afrikaansprekendes gemaak is.  Daar is ook hordes apps wat aanspraak maak daarop dat jy dit kan gebruik om Afrikaans te leer – ek het hulle vir eers buite rekening gelaat.

Spam apps

Dit is moontlik vir enigeen om sy app in die Google Play store te merk (tag) as “Afrikaans”, so as jy soek vir Afrikaans kry baie resultate wat niks met Afrikaans te doen het nie, en ook van min belang vir die meeste Afrikaanssprekendes sal wees.  Boonop is daar ‘n verdere irritasie dat dienste soos Google Translate dit vir enigeen moontlik maak om sy app beskrywing in enige taal wat hy nie ken nie, te vertaal.  Dis eintlik ‘n vorm van spam.  Byvoorbeeld ‘n ontwikkelaar met die naam “American Sports”, het ‘n app met die naam “Afrikaans” – wat eintlik Manchester United nuus bevat.  Die beskrywing bevat ook outomaties vertaalde besoedeling soos hierdie:

Aflaai Manchester United Jongste Nuus nou gratis en die eerste een wees van hierdie wonderlike nuwe inligting wat sal maak dat jy waardeer sokker nog meer te hê!

en

Kry hierdie fenomenale aansoek nou en die held van die dag !

Dis werklik nodig dat Google hierdie nonsens stopsit.

Meertalige apps

Hierdie is nou apps wat werk in Engels (of soms dalk ander tale ook) en Afrikaans – waar werklike werk gedoen is om die app in Afrikaans te laat werk.

Voorbeelde:

App from Absa; Cami speedtest (‘n hoofrekene spoedtoets – baie mooi gedoen); OsmAnd en OsmAnd+  (Ek het reeds oor OsmAnd geskryf)

Apps wat vir Afrikaansprekendes gemaak is.

Daar is hierdie apps uit die Naspers Media24 stal – jy ken die publikasies, so jy kan weet wat om te verwag – ‘n baie goeie manier om hierdie publikasies te lees:

Huisgenoot 3DHuisgenoot Skouspel; Beeld; Die Burger; Volksblad;

Media24 is ook die ontwikkelaar van die Kokkedoor app, met resepte van Errieda du Toit (wat ook die Huiskok blog het).

kokkedoor

Buiten Media24 se apps is daar ook:

Arithmethon;

arithmethon

Arithmethon is ‘n hoofrekene en Wiskunde oefenprogram met lang vrae (woordvrae), kwadrate, vierkantswortels, negatiewe getalle, optel, aftrek, maal, deel ensovoorts

TunaRadio:

tunaradio

Tunaradio is ‘n klein en gebruiksvriendelike app waarmee jy na  die TunaRadio internet radiostasie kan luister

Die voordele van OsmAnd+ bo Google Maps navigation

Serge Wroclawski het ‘n artikel in die Guardian geskryf oor hoekom dit nie goed is dat enkele groot maatskappye soos Google en Apple begin om die wêreld se geografiese inligting te beheer nie, en dat dit daarom goed is dat daar ook iets soos OpenStreetMap is.  Dit is werklik die moeite werd om te lees, om die omvang en implikasies van Google (veral), Apple en andere se mag op hierdie gebied te verstaan.

Regeringsinstansies behoort Openstreetmap te gebruik om byvoorbeeld plekke aan te dui op web sites, want as hulle byvoorbeeld Google Maps gebruik, dra hulle by daartoe om een maatskappy te bevoordeel, en meer mag oor die samelewing te gee as wat goed is.

osmand

OsmAnd is ‘n kaart en navigasie program wat gebasseer is op Openstreetmap wat ek gebruik, en baie nuttig en betroubaar vind, want dit het voordele bo Google Maps:

1. OsmAnd benodig nie ‘n data konneksie nie.  Google Maps benodig ‘n data konneksie om te kan werk.  As jy dus buite opvangs is van ‘n selfoonnetwerk, kan Google Maps jou ook nie help nie.  Boonop vreet die gebruik van Google Maps aan jou maandelikse selfoon data toelae.  OsmAnd, daarenteen, gebruik geen data as jy eers die kaart vir waar jy woon afgelaai het nie (byvoorbeeld South Africa and Lesotho) – al die kaart data is reeds op jou foon.

2. Aangesien OsmAnd nie terug gesels met ‘n groot maatskyppy in die VSA nie, word jou bewegings nie in ‘n databasis gestoor nie.

3. OsmAnd het ‘n goeie stelsel van gunsteling plekke.  As jy na ‘n gunsteling plek wil gaan, kliek net daarop, en weg is jy.  Jy kan jou gunsteling plekke in ‘n leer stoor, en vir iemand anders gee om te gebruik.

4. Goeie navigasie.   Ek sal nie sover gaan om te beweer dat OsmAnd meer akkurate paaie uitwerk as Google nie, maar ek het baie vêr gery in meer as een land, asook dele van Suid-Afrika wat ek nie goed ken nie, en OsmAnd het my nog nooit in die steek gelaat nie.

OsmAnd is gratis beskikbaar vir Android en Blackberry.  Sien hier hoe om dit te installeer.